Hulpeloos so sonder vrou

Vreeslik seer en baie rou

 

Telefoon hou nooit op.

Tant Magriet bring koekies,

Tant Maria sop.

 

Tannie Hester weet van troos:

Sy weet hy is stukkend

en tog so broos…

 

Teen haar boesems druk sy hom

tot hy laatnag hemel toe kom.

 

Hulpeloos so sonder vrou.

Binne twee maande klaar gerou.

 

 

Advertisements

Satynhemp.

Strik om die nek.

Kolle onder die arms.

Gladgelek.

 

Mendelsöhn…

Wasig kom sy in.

Knop in die keel –

te laat om te besin

 

Neem jy haar

die bruid langs jou

vir ewig en altyd

as jou wettige vrou?

 

Kop begin te draai.

Ore begin te sing.

Soos ‘n os slaan hy neer –

gryp vir laas na die ring.

 

Strop om die nek.

Tant Koek se hoenderhaan.

Grootbek voor sy pelle.

Katjie van die baan.

Dit donder en blits en skreeu en skel.

Dit vloek mekaar so reg uit die hel.

Maar klop die dominee aan die deur

sit hulle so liefies by mekaar asof niks gebeur.

 

En waag hy dit om hulle uit te vra

sê hulle: “Agge nee, dominee,

ons het niks om oor te kla”

 

Maar met die dominee net om die draai

hoor jy van vêr weer die lawaai.

Koek en tee.

Klaar met jou.

Dankie vir als.

Maak net gou.

 

Pink ‘n traan.

“Laat Heer u seën”

Leier-ouderling praat.

Skyn-vroom geween.

 

Afskeidskerse word aangesteek.

Gemeente beroep reeds volgende week.

Metodiste en Vollies

en Doppers kom saam:

Lees uit die Bybel –

verheerlik sy Naam

 

Die leeu en die lam

kon by mekaar gaan lê.

Hulle het saam grootgeword

sou ‘n mens amper kon sê.

 

Tomas en Petrus

en Judas was saam.

Wonderwerke gebeur nog –

verheerlik sy Naam.

Om van aardse bekommernis te vrywaar

‘n traktement…

Die geld wat ek verdien

oop en bloot in die vergadering

vir elkeen om te sien.

 

Om van aardse bekommernis te vrywaar

‘n traktement…

Vir die daaglikse behoeftes

van  my vrou en kind en kraai

en nog iets vir die behoeftiges

wat by my deur kom draai.

 

Om van aardse bekommernis te vrywaar

‘n traktement…

Dit hou my nederig en stil

Dit laat my op die Heer vertrou

Om met my te maak soos Hy wil…

 

 (Om te sing oor kerstyd- op wysie van: Aanskou die Heiland sien die kruis)

 

AANSKOU DIE HEILAND SIEN DIE STAL

DIE KONING VAN DIE GROOT HEELAL

HOE HY HOM SO VIR MY VERLAAG

EN EK WIL NET MYSELF BEHAAG

 

DIE HERDERS KOM OM HOM TE EER

DIE WYSES KNIEL AANBIDDEND NEER

VOOR AARDSE HEERSERS MOES HY VLUG

‘N KONING OP ‘N DONKIERUG

 

IN STINKEND’ STAL HET HY KOM LY

HY GEE SY LEWE OOK VIR MY

DIE KRUIS SE SKADU OOR DIE KRIP

DIT IS TE HOOG VIR MY BEGRIP

 

HOM KAN EK NOU MET VREUGDE DIEN

IN RUIMTE DEUR SY KRUIS VOORSIEN

‘N LIEFDE SO VOLMAAK EN VRY

EIS ALLES, ALLES OOK VAN MY

(Laaste vers deur Attie van der Colf 2001 Liedboek 396)

Hoekom dominee

kry ek so swaar?

Ek lewe dan mooi –

bring my kant.

Hoekom word ek

so diep ingestamp?

 

Teodisee –

Hoe moet ek die antwoorde gee?

Ek self wil ook maar vra

en voosgestamp by die Here kla.

Het julle al van die blomme en die bye gehoor?

Nooit nie, dominee…

antwoord hulle vroom in ‘n koor.

 

Maar agteraf

wil hulle lekker lag

want sy is lankal al deurboor.

Vrome broer Jan

gryp wilde broer Piet

oor hy op Saterdagaande

die Lotto so geniet.

Vrome broer Jan

kla vir broer Gerrie aan

oor hy die ou voggies

net nie kan laat staan.

Vrome broer Jan

is tog so beswaard

oor al die nuwe liedere

wat tog net nie by ons aard.

Vrome broer Jan

Hou tot laatnag toe aan:

Beskerm die Evangelie

en vou vroom sy hande saam.

Vrome broer Jan

knyp die kat by die huis,

mishandel sy ou vroutjie

en lewe glad nie so kuis.


Verbale diaree.

Weer ‘n koppie tee.

Gedagtes goed beleë

van die tafel afgevee.

 

En tog… dit bly die Heer se werk.

En ons – ons bly sy kerk.

Glaskas –

vir almal om te sien

hoe my eie gesin

ook maar sukkel

om in die hemel in te pas.

(na aanleiding van ‘n kind met rooimiere terwyl die gemeente sing)

 

‘k het Jesus lief, Hy is my lig en krag

(Ag nee Sussie, wat is dit met jou vandag?)

Hy sal in angs en nood my nooit begewe

(Staan nou stil, Sussie, jy het heeltemal te veel lewe…)

Net Hy alleen, die Redder van my lewe

(Ek gryp jou nou – dan sien ons hoe jy bewe…)

Verlos my siel van skuld en sondemag.

 

Toe val die hou met ‘n dowwe slag.

 

Ons kerk is baie vriendelik
sal die meeste mense sê.
Hulle groet jou by die deure
en wil jou binne hê.

Maar is jy ‘n besoeker
en hoor wat hulle sê –
sit jy alleen en wonder
of hulle jou regtig hier wil hê.

Denims en tekkies
Kitare die lot
Hulle dans en hulle sing
voor die Here ons God

Die oues hou hulle harte
Met beide hande vas
“Is dit nie heiligskennis?
Is dit dan ooit gepas?”

“Waar is die gewydheid?
Dis tog so ‘n las.
Bring ons die ou-ou tyding
Soos dit nog altyd was.”

Die Here kyk van bo –
Hy sien die harte raak.
Fariseer en Tollenaar –
beide het Hy gemaak.

Ons dominee is glad nie ‘n leek.

Hy klim op sy kassie

en geniet dit om te preek.

Hy swaai sy arms en skud sy kop

en as hy sy vinger wys

kruip ek vinnig in my dop.

 

Ons dominee is glad nie ‘n leek.

Daar is net een ding

waarvoor ek ‘n stokkie wil steek:

Hy sukkel so om Amen te sê

en ons te wys hoe om regtig lief te hê.

Welkom

Welkom by Heilige Brandboud. In hierdie blog gaan ek deur middel van gedigte en rympies en houtskoolsketse op my leefwereld reflekteer. Jy is welkom om saam te dig en te rym of sommer net jou gedagtes te gee. Ek is nou al sowat 23 jaar as 'n dominee by die kerk betrokke. Wanneer jy so lank in die bediening is, begin jy om sake baie ligter te sien. Jy laat jou nie meer so maklik onder kry deur mense se grille en geite nie. Jy leer om baie meer te lag. En stories te vertel. En prentjies te teken. En te dig...

Top Clicks

  • Geen
Advertisements