You are currently browsing the category archive for the ‘Kerklike lewe’ category.
Heidelbergse Kategismus
Sondag Een.
Hulle sit met verstarde oë
asof versteen.
Wat is jou enigste troos?
Een waag dit om te sê –
die ander staar net stil…
“Is dit nie dalk dat Jesus gesterf het
om ons ontwil?”
Dortse Leerreels
uit ‘n vorige eeu
maak nie meer baie sin
voel hulle lus om dit uit te skreeu.
Maar praat oor seks en aborsie –
dan praat hulle gou-gou saam.
Dis die wêreld waarin hulle lewe –
al kry die dominee soms ook skaam.
Grootbek en vol brawade
kan hulle tog so spog
oor als wat hulle probeer het
en wie weet wat alles nog.
Maar diep binne-in
is hulle nog maar klein.
Eintlik wil hulle net die versekering hê:
Jesus self maak hulle hartjies rein.
Rowwejack.
Uit sy plek.
Woes en rof.
Onbeskof.
Ma bly bid vir veertig jaar.
Woestynreis uiteindelik klaar.
Nuwe man –
Die Here kan!
Koek en tee.
Klaar met jou.
Dankie vir als.
Maak net gou.
Pink ‘n traan.
“Laat Heer u seën”
Leier-ouderling praat.
Skyn-vroom geween.
Afskeidskerse word aangesteek.
Gemeente beroep reeds volgende week.
Metodiste en Vollies
en Doppers kom saam:
Lees uit die Bybel –
verheerlik sy Naam
Die leeu en die lam
kon by mekaar gaan lê.
Hulle het saam grootgeword
sou ‘n mens amper kon sê.
Tomas en Petrus
en Judas was saam.
Wonderwerke gebeur nog –
verheerlik sy Naam.
Om van aardse bekommernis te vrywaar
‘n traktement…
Die geld wat ek verdien
oop en bloot in die vergadering
vir elkeen om te sien.
Om van aardse bekommernis te vrywaar
‘n traktement…
Vir die daaglikse behoeftes
van my vrou en kind en kraai
en nog iets vir die behoeftiges
wat by my deur kom draai.
Om van aardse bekommernis te vrywaar
‘n traktement…
Dit hou my nederig en stil
Dit laat my op die Heer vertrou
Om met my te maak soos Hy wil…
Vrome broer Jan
gryp wilde broer Piet
oor hy op Saterdagaande
die Lotto so geniet.
Vrome broer Jan
kla vir broer Gerrie aan
oor hy die ou voggies
net nie kan laat staan.
Vrome broer Jan
is tog so beswaard
oor al die nuwe liedere
wat tog net nie by ons aard.
Vrome broer Jan
Hou tot laatnag toe aan:
Beskerm die Evangelie
en vou vroom sy hande saam.
Vrome broer Jan
knyp die kat by die huis,
mishandel sy ou vroutjie
en lewe glad nie so kuis.
Verbale diaree.
Weer ‘n koppie tee.
Gedagtes goed beleë
van die tafel afgevee.
En tog… dit bly die Heer se werk.
En ons – ons bly sy kerk.
Glaskas –
vir almal om te sien
hoe my eie gesin
ook maar sukkel
om in die hemel in te pas.



Onlangse Kommentaar