You are currently browsing the category archive for the 'Geloof' category.
“Paulus se teologie
klop vandag net nie”
Dis wat die ou mense sê:
“Want ons weet nie meer wat hy wil hê.”
Ons dog hy praat van hoede en geld -
nou hoor ons hy weet van strukturele geweld.
Ons dog hy praat van wyn en brood -
nou stuur hy ons na plakkers in hul nood.
Paulus se boodskap klop tog wel:
Om te doen soos Jesus is al wat tel.
Hy het sy dissipels se voete gewas -
Hy is die Draer van elke las -
Hy is die Een wat saam kan huil –
En ons word sy arms
in wie ander kan skuil
Vroue gaan om vir laas sy lyf
te balsem
en sommer net te huil.
Was alles dan leeg,
sinloos en verniet?
Here, die wêreld is so vuil!
Skielik gaan hulle staan
Kan dit dan wees?
Die graf is oop
Die lyk is weg
Ag heretjie tog -
wat kan ons nog tref?
Skielik staan Hy daar –
hulle kyk vir Hom.
“Maria” sê Hy sag.
Hulle staan verstom.
Dan borrel dit in hulle oor:
Die Here leef!
Ons het Hom nie verloor!
Vinnig hardloop om te vertel
vir die ander in hul pyn:
Ons Here leef –
Hy het self aan ons verskyn.
Here
Ek weet U soek nie getalle
U soek verhoudings
U soek diepte
U soek ore wat hoor
Hoekom is ek dan so verlam
teleurgesteld
as hier net ‘n paar opdaag?
Miskien moet ek begin waag
om oor te gee
te dryf
in U genade
Maak my oë oop
dat ek U kan sien
Amen
(Om te sing oor kerstyd- op wysie van: Aanskou die Heiland sien die kruis)
AANSKOU DIE HEILAND SIEN DIE STAL
DIE KONING VAN DIE GROOT HEELAL
HOE HY HOM SO VIR MY VERLAAG
EN EK WIL NET MYSELF BEHAAG
DIE HERDERS KOM OM HOM TE EER
DIE WYSES KNIEL AANBIDDEND NEER
VOOR AARDSE HEERSERS MOES HY VLUG
‘N KONING OP ‘N DONKIERUG
IN STINKEND’ STAL HET HY KOM LY
HY GEE SY LEWE OOK VIR MY
DIE KRUIS SE SKADU OOR DIE KRIP
DIT IS TE HOOG VIR MY BEGRIP
HOM KAN EK NOU MET VREUGDE DIEN
IN RUIMTE DEUR SY KRUIS VOORSIEN
‘N LIEFDE SO VOLMAAK EN VRY
EIS ALLES, ALLES OOK VAN MY
(Laaste vers deur Attie van der Colf 2001 Liedboek 396)
Hoekom dominee
kry ek so swaar?
Ek lewe dan mooi –
bring my kant.
Hoekom word ek
so diep ingestamp?
Teodisee –
Hoe moet ek die antwoorde gee?
Ek self wil ook maar vra
en voosgestamp by die Here kla.



Onlangse Kommentaar