You are currently browsing the category archive for the 'Erediens' category.
(na aanleiding van ‘n kind met rooimiere terwyl die gemeente sing)
‘k het Jesus lief, Hy is my lig en krag
(Ag nee Sussie, wat is dit met jou vandag?)
Hy sal in angs en nood my nooit begewe
(Staan nou stil, Sussie, jy het heeltemal te veel lewe…)
Net Hy alleen, die Redder van my lewe
(Ek gryp jou nou – dan sien ons hoe jy bewe…)
Verlos my siel van skuld en sondemag.
Toe val die hou met ‘n dowwe slag.
Ons kerk is baie vriendelik
sal die meeste mense sê.
Hulle groet jou by die deure
en wil jou binne hê.
Maar is jy ‘n besoeker
en hoor wat hulle sê –
sit jy alleen en wonder
of hulle jou regtig hier wil hê.
Denims en tekkies
Kitare die lot
Hulle dans en hulle sing
voor die Here ons God
Die oues hou hulle harte
Met beide hande vas
“Is dit nie heiligskennis?
Is dit dan ooit gepas?”
“Waar is die gewydheid?
Dis tog so ‘n las.
Bring ons die ou-ou tyding
Soos dit nog altyd was.”
Die Here kyk van bo –
Hy sien die harte raak.
Fariseer en Tollenaar –
beide het Hy gemaak.
Ons dominee is glad nie ‘n leek.
Hy klim op sy kassie
en geniet dit om te preek.
Hy swaai sy arms en skud sy kop
en as hy sy vinger wys
kruip ek vinnig in my dop.
Ons dominee is glad nie ‘n leek.
Daar is net een ding
waarvoor ek ‘n stokkie wil steek:
Hy sukkel so om Amen te sê
en ons te wys hoe om regtig lief te hê.
Doomnie – jy bid so mooi
met woorde groot en opgetooi:
Goedertierenhede en barmhartighede
en goedgeartikuleerde wysighede.
Dink jy die Here sal my verstaan
as ek sommer net so na Hom toe gaan?

Onlangse Kommentaar