Heidelbergse Kategismus
Sondag Een.
Hulle sit met verstarde oë
asof versteen.
Wat is jou enigste troos?
Een waag dit om te sê –
die ander staar net stil…
“Is dit nie dalk dat Jesus gesterf het
om ons ontwil?”
Dortse Leerreels
uit ‘n vorige eeu
maak nie meer baie sin
voel hulle lus om dit uit te skreeu.
Maar praat oor seks en aborsie –
dan praat hulle gou-gou saam.
Dis die wêreld waarin hulle lewe –
al kry die dominee soms ook skaam.
Grootbek en vol brawade
kan hulle tog so spog
oor als wat hulle probeer het
en wie weet wat alles nog.
Maar diep binne-in
is hulle nog maar klein.
Eintlik wil hulle net die versekering hê:
Jesus self maak hulle hartjies rein.
Die volgende gedig is geskryf deur my vriend Bernard Rademeyer wat pas oupa geword het:
Ongebore, onbekende, liewe klein baba Kruger –
Jy is onbekend maar tog bekend!
Onbekend maar reeds bemind!
Liewe Eugene James Kruger,
ons het jou gesien –
soos psalm honderd nege en dertig sê:
binne in die moederskoot …!
jy klein kunswerkie van God,
gevorm en kunstig geweef;
unieke vreemde wesetjie;
naak en mooi,
met gesiggie teen die baarmoederwand geplooi,
‘n Kosbare geskenk van God,
toegedraai in ‘n warm mammalyfie;
veilig en sag!
dis op jou koms waarop
ons reikhalsend wag …!
Liewe klein babatjie
ons het jou gesien …!
met jou twee-lob breintjie in jou kop;
die slukdermpie en die maag;
die hartjie wat so vinnig klop;
vyf toontjies aan elke voet;
vyf vingertjies aan elke hand;
‘n pragtige ruggraatjie met ribbetjies;
‘n naelstringetjie en ‘n seunsgoeddingetjie
ook jou oortjies, neusie, mond –
en dr van der Westhuizen het gesê:
“ die outjie lyk gesond! “
Liewe klein fetussie
ons het jou gesien …!
en familietrekke herken!
ingesonar het jy
in ons hart
en gedagtes
kom bly
jy – gevorm uit die genepoel
van duisende voorgeslagte
ontkiem en groei in ons
tot baba … kosbare mens!
mens uit God …!
mens uit ons …!
mens in ons …!
Onbekende, misterieuse mens!
tog bekende, beminde mens!
God se kosbare mens!
ons liewe mensie!
jy …!
Eugene James Kruger!
Oupa sien uit na ons ongesluierde ontmoeting …!
Opgedra aan: Eugene (snr) en Magrietjie;
Oupa Eugene en ouma Mariaan Kruger;
Oupa Bernard en ouma Ceciel Rademeyer;
Die vier oumagrootjies wat almal lewe en
Vier oupagrootjies waarvan een nog lewe en drie reeds oorlede is.
Geskryf: Ds Bernard Rademeyer
25/11/2009
“Paulus se teologie
klop vandag net nie”
Dis wat die ou mense sê:
“Want ons weet nie meer wat hy wil hê.”
Ons dog hy praat van hoede en geld -
nou hoor ons hy weet van strukturele geweld.
Ons dog hy praat van wyn en brood -
nou stuur hy ons na plakkers in hul nood.
Paulus se boodskap klop tog wel:
Om te doen soos Jesus is al wat tel.
Hy het sy dissipels se voete gewas -
Hy is die Draer van elke las -
Hy is die Een wat saam kan huil –
En ons word sy arms
in wie ander kan skuil
Vroue gaan om vir laas sy lyf
te balsem
en sommer net te huil.
Was alles dan leeg,
sinloos en verniet?
Here, die wêreld is so vuil!
Skielik gaan hulle staan
Kan dit dan wees?
Die graf is oop
Die lyk is weg
Ag heretjie tog -
wat kan ons nog tref?
Skielik staan Hy daar –
hulle kyk vir Hom.
“Maria” sê Hy sag.
Hulle staan verstom.
Dan borrel dit in hulle oor:
Die Here leef!
Ons het Hom nie verloor!
Vinnig hardloop om te vertel
vir die ander in hul pyn:
Ons Here leef –
Hy het self aan ons verskyn.
Die eerste plaag is rooi soos bloed.
Dit roof en moor
en vat jou goed
Die tweede plaag is wit soos was.
Met gepleisterde gesig
loop jy jou teen hom vas
Die derde plaag is pers soos wyn.
Dis bottels en pille
wat hulle laat krul van pyn.
Die vierde plaag is gryse graniet:
Koud en hard –
‘n onvergewensgesinde verdriet
Die vyfde plaag is geel soos goud.
Sonder liefde
slaap geld baie koud
Die sesde plaag is lief en sag.
Voor jy jou kom kry
druk sy jou rond teen haar borste vas.
Die sewende plaag is koud en hard.
Sonder familie en vriend –
eensaam en verward.
Die agtste plaag is ‘n geklaag en gekerm
van vrouens wat neul
en mans wat hulle nie beskerm
Die negende plaag so uit die hel
is mense wat tob
en oor alles hulle kwel.
Die tiende plaag is pikgit-swart.
Kinders op afdraaipaadjies
skeur ‘n ouerhart
Farao het Moses uiteindelik laat trek.
Vir ons is Jesus uit die graf opgewek.
Rowwejack.
Uit sy plek.
Woes en rof.
Onbeskof.
Ma bly bid vir veertig jaar.
Woestynreis uiteindelik klaar.
Nuwe man –
Die Here kan!
Gedreineer.
Gewring.
Getap.
Uitgesuig
deur almal wat op jou aanspraak maak.
Gee.
Gee.
Gee
tot jy leeg
vervang word met nog ‘n aap.
pienk-gerimpeld
half-ontsteld
blaai sy deur die fotos
en klou vas aan ‘n handjie vol geld
Here
Ek weet U soek nie getalle
U soek verhoudings
U soek diepte
U soek ore wat hoor
Hoekom is ek dan so verlam
teleurgesteld
as hier net ‘n paar opdaag?
Miskien moet ek begin waag
om oor te gee
te dryf
in U genade
Maak my oë oop
dat ek U kan sien
Amen
Hulle kom na die alwyse vir raad
dat ek my toorstokkie swaai
my dolosse gooi
en hul verlos van al hulle kwaad.
Dis eers later dat hulle begin verstaan
die stokkie en die os
het ek by die huis gelos.
Hulle moet self die verandering ondergaan
Baba huilend in die arms.
Dominee probeer ‘n Woord inkry.
Dis eintlik bad en voertyd -
wanneer is die gesprek dan verby?
Verstaan nie veel van die Heer se genade –
van sy verbond met Abraham.
Glo nie hul kind is verdorwe.
Probeer haar opvoed so goed hul kan.
Maar Sondag is dit dooprok en blomme
Ouma self wil die kind in bring.
Gemeente sing van God se verbondsgenade
wat wyer as sondaar-ouers kring.
Hoe gaan dit, liewe tannie
so voor die operasie –
het jy dors?
Los die praatjies, liewe dominee
en voel net hier –
die knop sit nog in my bors.
Hulpeloos so sonder vrou
Vreeslik seer en baie rou
Telefoon hou nooit op.
Tant Magriet bring koekies,
Tant Maria sop.
Tannie Hester weet van troos:
Sy weet hy is stukkend
en tog so broos…
Teen haar boesems druk sy hom
tot hy laatnag hemel toe kom.
Hulpeloos so sonder vrou.
Binne twee maande klaar gerou.
Satynhemp.
Strik om die nek.
Kolle onder die arms.
Gladgelek.
Mendelsöhn…
Wasig kom sy in.
Knop in die keel –
te laat om te besin
Neem jy haar
die bruid langs jou
vir ewig en altyd
as jou wettige vrou?
Kop begin te draai.
Ore begin te sing.
Soos ‘n os slaan hy neer –
gryp vir laas na die ring.
Strop om die nek.
Tant Koek se hoenderhaan.
Grootbek voor sy pelle.
Katjie van die baan.
Dit donder en blits en skreeu en skel.
Dit vloek mekaar so reg uit die hel.
Maar klop die dominee aan die deur
sit hulle so liefies by mekaar asof niks gebeur.
En waag hy dit om hulle uit te vra
sê hulle: “Agge nee, dominee,
ons het niks om oor te kla”
Maar met die dominee net om die draai
hoor jy van vêr weer die lawaai.
Koek en tee.
Klaar met jou.
Dankie vir als.
Maak net gou.
Pink ‘n traan.
“Laat Heer u seën”
Leier-ouderling praat.
Skyn-vroom geween.
Afskeidskerse word aangesteek.
Gemeente beroep reeds volgende week.
Metodiste en Vollies
en Doppers kom saam:
Lees uit die Bybel –
verheerlik sy Naam
Die leeu en die lam
kon by mekaar gaan lê.
Hulle het saam grootgeword
sou ‘n mens amper kon sê.
Tomas en Petrus
en Judas was saam.
Wonderwerke gebeur nog –
verheerlik sy Naam.
Om van aardse bekommernis te vrywaar
‘n traktement…
Die geld wat ek verdien
oop en bloot in die vergadering
vir elkeen om te sien.
Om van aardse bekommernis te vrywaar
‘n traktement…
Vir die daaglikse behoeftes
van my vrou en kind en kraai
en nog iets vir die behoeftiges
wat by my deur kom draai.
Om van aardse bekommernis te vrywaar
‘n traktement…
Dit hou my nederig en stil
Dit laat my op die Heer vertrou
Om met my te maak soos Hy wil…
(Om te sing oor kerstyd- op wysie van: Aanskou die Heiland sien die kruis)
AANSKOU DIE HEILAND SIEN DIE STAL
DIE KONING VAN DIE GROOT HEELAL
HOE HY HOM SO VIR MY VERLAAG
EN EK WIL NET MYSELF BEHAAG
DIE HERDERS KOM OM HOM TE EER
DIE WYSES KNIEL AANBIDDEND NEER
VOOR AARDSE HEERSERS MOES HY VLUG
‘N KONING OP ‘N DONKIERUG
IN STINKEND’ STAL HET HY KOM LY
HY GEE SY LEWE OOK VIR MY
DIE KRUIS SE SKADU OOR DIE KRIP
DIT IS TE HOOG VIR MY BEGRIP
HOM KAN EK NOU MET VREUGDE DIEN
IN RUIMTE DEUR SY KRUIS VOORSIEN
‘N LIEFDE SO VOLMAAK EN VRY
EIS ALLES, ALLES OOK VAN MY
(Laaste vers deur Attie van der Colf 2001 Liedboek 396)
Hoekom dominee
kry ek so swaar?
Ek lewe dan mooi –
bring my kant.
Hoekom word ek
so diep ingestamp?
Teodisee –
Hoe moet ek die antwoorde gee?
Ek self wil ook maar vra
en voosgestamp by die Here kla.
Het julle al van die blomme en die bye gehoor?
Nooit nie, dominee…
antwoord hulle vroom in ‘n koor.
Maar agteraf
wil hulle lekker lag
want sy is lankal al deurboor.
Vrome broer Jan
gryp wilde broer Piet
oor hy op Saterdagaande
die Lotto so geniet.
Vrome broer Jan
kla vir broer Gerrie aan
oor hy die ou voggies
net nie kan laat staan.
Vrome broer Jan
is tog so beswaard
oor al die nuwe liedere
wat tog net nie by ons aard.
Vrome broer Jan
Hou tot laatnag toe aan:
Beskerm die Evangelie
en vou vroom sy hande saam.
Vrome broer Jan
knyp die kat by die huis,
mishandel sy ou vroutjie
en lewe glad nie so kuis.
Verbale diaree.
Weer ‘n koppie tee.
Gedagtes goed beleë
van die tafel afgevee.
En tog… dit bly die Heer se werk.
En ons – ons bly sy kerk.
Glaskas –
vir almal om te sien
hoe my eie gesin
ook maar sukkel
om in die hemel in te pas.








Onlangse Kommentaar